Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

‘n Onderpresterende wêreldekonomie, veral in Europa, ná die finansiële krisis van 2007-2009 is aanvanklik uitsluitend die skuld gegee vir die land se verknorsing. Meer onlangs het dit egter aanvaarbaar geword om te erken dat Suid-Afrika se aanhoudend lae groei minstens gedeeltelik te wyte is aan sy eie idiosinkratiese beperkings, omdat dit te opvallend geword het om te ontken.

Op kort termyn sal ekonomiese bedrywigheid verder belemmer word deur die tekort aan kragvoorsiening, maar wat belangriker is, is dat die gebrek aan vordering met strukturele hervormings wat lankal moes plaasgevind het nou besig is om Suid-Afrika in te haal. In ‘n verslag gedateer 21 Februarie 2015 word Suid-Afrika deur die gesaghebbende The Economist beskryf as ‘n land wat deur ondoeltreffendheid en korrupsie geteister word.

Dit is interessant om daarop te let dat wanneer die negatiewe uitwerking van internasionale ekonomiese toestande op plaaslike ekonomiese groei uitgelig word, Europa en nie China nie gewoonlik eerste genoem word. Dit word blykbaar geregverdig deur die feit dat die eurosone in 2012/2013 ‘n volslae resessie beleef het, terwyl China net ‘n verlangsaming van groei ervaar het. Die ekonomie van die eurosone is ook steeds een derde groter as dié van China (teen markwisselkoerse), wat beteken dat dit stellig ‘n groter impak op internasionale toestande sal hê.

Dit wil dus voorkom asof die Suid-Afrikaanse beleidvormers se poging om die land se ekonomiese bande met nie-tradisionele handelsvennote soos die lede van die BRICS-groep ten koste van die Westerse ontwikkelde ekonomieë te versterk, die regte besluit was teen die agtergrond van die Groot Resessie.

Dit is egter ironies dat Suid-Afrika se besluit om sy handelsbande met veral China (die wêreld se grootste invoerder van natuurlike hulpbronne sowel as sy vervaardigingsmasjienkamer) uit te brei, saamgeval het met die Departement van Handel en Nywerheid se aanvaarding van ‘n beleid wat daarop gemik is om die vervaardigingsektor weer aan te wakker, naamlik deur uitvoere van onverwerkte grondstowwe te ontmoedig en waardetoegevoegde produksie aan te moedig deur die veredeling van Suid-Afrika se oorvloedige mineraal- en metaalafsettings.

As ‘n mens terugkyk, ontstaan die vraag of dit uit ‘n groeisiklus-oogpunt die regte tyd was om hierdie strategie te aanvaar. Die BRICS-lande is blykbaar besig om te verswak juis wanneer die ontwikkelde ekonomieë vaart begin optel – kyk die meegaande grafiek waarin die groeiprestasie van die BRICS (BBP geweegde gemiddelde) vanaf 2010 met dié van die ontwikkelde ekonomieë vergelyk word.

Ekonomiese Groei: BRICS vs Ontwikkelde Ekonomieë

Bron: IMF, Wêreldbank en eie berekeninge

Soos in die grafiek aangedui, het die groeiprestasie van die ontwikkelde ekonomieë ‘n onderste draaipunt bereik en toon dit ‘n stygtendens. Daarenteen is die prestasie van die BRICS-lande vasgevang in ‘n daaltendens wat vier jaar gelede begin het en om redes eie aan elke lidland waarskynlik voortgesit sal word.

Rusland beleef ‘n resessie wat na verwagting vir minstens nog twee jaar sal voortduur. Westerse sanksies, veral finansiële sanksies, weens die land se betrokkenheid by die krisis in die Oekraïne, kan deels die skuld gegee word vir sy probleme. Dit is egter ook die gevolg van sy onvermoë om sy ekonomie te diversifiseer en sy afhanklikheid van olie en gas te verminder, met die gevolg dat dit swaar getref is deur die onlangse daling in energiepryse.

Groei in Brasilië het net so skerp gedaal soos in die geval van Rusland – vanaf 7,5% in 2010 tot net 0,1% in 2014. Die sogenaamde “Lula-oomblik” is ontmasker vir wat dit werklik was, naamlik nie veel meer as ‘n “China-oomblik” nie, en die skielike daling in kommoditeitsmarkte het ‘n geweldige impak op Brasilië se ekonomie gehad. Brasilië is ook in ‘n verknorsing weens ‘n baie groot korrupsieskandaal waarby senior politici en Petrobas, die oliemaatskappy in staatsbesit, betrokke is.

Groei in China is besig om te verlangsaam en as ‘n mens Lawrence Summers en Lant Pritchett moet glo, sal die gemiddelde geleidelik terugkeer na die langtermyn gemiddelde wêreldwye groei van ongeveer 3,5% p.j., alhoewel vooruitskattings van 6 - 7% groei op kort termyn haalbaar is. China is besig om van investering as die hoofaandrywer van ekonomiese groei te verskuif na ‘n baie groter rol vir verbruik. Die dae toe ‘n verbetering maklik bewerkstellig kon word deur mense uit die laeproduktiwiteit-landbousektor na die hoërproduktiwiteit-vervaardigingsektor te verskuif, is egter verby. Die land het ook ‘n groot staatskuldprobleem wat duur sal wees om op te los.

Baie van diegene wat China dophou, is van mening dat indien die land sy langdurige opwaartse tendens wil voortsit en ‘n wêreldleier wil word, hy minder op die invoer van tegnologie en idees (wettig en onwettig) sal moet staatmaak en self meer innoverend sal moet word.

Of laasgenoemde in die lig van die Chinese kultuur en politiek moontlik is, is ‘n ope vraag. Individuele vryheid is die kern van die kreatiwiteit waarsonder innovasie nie kan floreer nie en die Chinese Kommunistiese Party se obsessie om wat hul burgers dink en hul interaksie met mekaar en buitestanders te beheer, is nie bevorderlik vir ‘n kultuur van innovasie en kreatiewe entrepreneurskap nie. China is ook berug vir sy gebrek aan respek vir intellektuele eiendom, wat innoveerders verder kan ontmoedig. Omvattende institusionele hervorming is dus nodig voordat hy ‘n toonaangewende rol in die wêreldwye innovasiewedloop kan begin speel.

Indië is blykbaar in die beste posisie van die vyf BRICS-lidlande om sy groeiprestasie op kort termyn te verbeter. In dieselfde verslag waarna hierbo verwys word, spreek The Economist die mening uit dat Indië ‘n seldsame geleentheid het om die wêreld se mees dinamiese groot ekonomie te word.

In vergelyking met China is Indië se demografie gunstiger en sy bevolking het hul entrepreneuriese vermoëns bewys. Terwyl China grotendeels die moontlikhede vir groei om op te vang, opgebruik het, het Indië nog ‘n lang pad om te loop – sy BBP per capita is minder as die helfte van dié van China. China het tans te make met die beperkings van ‘n werkmag wat nie meer vinnig groei nie en die gevolglike loonstygings, terwyl Indië nog sy eie tydperk van massamigrasie van werkers uit die landbou na die moderne, hoëproduktiwiteitsektore van die ekonomie moet deurmaak. Anders as China kan hy realisties nie net vervaardigingsbedrywighede nie maar ook dienste benut om groei en ontwikkeling aan te help.

Die fokus op infrastruktuur wat ‘n deurslaggewende rol gespeel het in die verhoging van China se investeringskoers, het nog nie in Indië begin nie. Die belangrikste uitdaging vir Indië is om die volgende groot stap te neem om sy ekonomie deur deregulasie vry te stel, soos wat hy in die vroeë neëntigerjare gedoen het.

Soos in die geval van China word die betroubaarheid van Indië se BBP-statistiek egter bevraagteken sedert die onlangse herbasering daarvan wat ‘n drastiese opwaartse aanpassing van onlangse groeikoerse tot gevolg gehad het. China sowel as Indië het te kampe met die teenstrydigheid van nasionale en laervlakgroeikoerse, met nasionale groeikoerse wat ongeloofwaardig hoog en strydig is met die groeikoerse van hul komponente.

Die vergelykende ekonomiese sukses van China en Indië is ook van groot belang vir die debat oor die relatiewe meriete van outokratiese vs. demokratiese regering as ‘n politieke stelsel bevorderlik vir ekonomiese ontwikkeling. Vir baie mense was die sogenaamde Chinese wonderwerk van die afgelope drie dekades afdoende bewys van die superioriteit van outokratiese regering. Indien Indië China egter as die wêreld se groeileier verbysteek (daar bestaan ‘n groot moontlikheid dat groei in Indië teen 2015/2016 dié in China met minstens ‘n persentasiepunt sal oorskry), sal dit baie daartoe bydra om die meriete van demokrasie as ‘n ontwikkelingsmodel te bevorder.

Die vooruitsigte vir die BRICS-lande in vergelyking met dié van die ontwikkelde ekonomieë lyk dus beslis nie so rooskleurig soos wat tot onlangs die geval was nie. Dit sal dus ‘n fout wees om in hierdie stadium Suid-Afrika se ekonomiese bande met die ontwikkelde ekonomieë te verslap ter wille van die uitbreiding van bande met ander BRICS-lande.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam