Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die verwronge manier waarop swart ekonomiese bemagtiging nagestreef word, met uitgesoeke individue eerder as die breë bevolking wat daarby baat vind, dra ook tot groter ongelykheid by. Daar is inderdaad bevind dat die groter ongelykheid ná 1994 hoofsaaklik die gevolg van meer ongelykheid onder die swart bevolking was, terwyl ongelykheid tussen rassegroepe verminder het.

Indien ‘n mens Thomas Piketty se metodologie soos uiteengesit in Capital in the Twenty-First Century aanvaar, sal laer groei op sigself ongelykheid vererger weens ‘n groter wordende r - g-gaping, waar g die groeikoers en r die netto nabelaste opbrengs op kapitaal verteenwoordig. Die impak van laer groei is moontlik ten minste gedeeltelik deur gedempte beleggingsopbrengste, veral op Suid-Afrikaanse aandele, teëgewerk, wat r afgedruk het. ‘n Lae g sou op traer loongroei dui omdat lone produktiwiteit navolg, en terselfdertyd spaar/ophoping van rykdom uit verdiende inkomste afdruk.

Die verhouding tussen ekonomiese groei en ongelykheid slaan na weerskante en is ingewikkeld. Enersyds is hoër groei noodsaaklik vir die verligting van werkloosheid, wat die hoofaandrywer van ongelykheid is (die Gini-koëffisiënt vir werkende mense is na raming ongeveer 0,4 teenoor 0,7 vir die bevolking in die geheel). Andersyds word groei belemmer deur die uitermatige vlakke van ongelykheid van die soort waarmee Suid-Afrika te make het omdat dit die volle benutting van die beskikbare menslike kapitaal verhinder en vraag in die ekonomie beperk.

Die algemene antwoord wanneer die verband tussen ongelykheid en groei beskryf word, is om die belangrikheid te beklemtoon van gedrag wat groei ondersteun, veral wanneer dit by entrepreneuriese bedrywigheid kom. Met ander woorde, groter (en toenemende) ongelykheid wat betref welvaart moet as die onvermydelike uitkoms van entrepreneuriese sukses aanvaar word en die demping daarvan sal positiewe aansporings tot nadeel van groei ondermyn. Rykdom voortspruitend uit eie inspanning word oor die algemeen deur die samelewing aanvaar as billike vergoeding vir harde werk, anders as byvoorbeeld geërfde rykdom. Dit is egter nie die volle verhaal nie, en op lange duur word potensiële groei deur ongelykheid afgedruk.

Daar is bevind dat ‘n hoë konsentrasie van rykdom die ondoeltreffende toedeling van kapitaal kan veroorsaak, veral as daardie rykdom verkry is deur gedrag wat byvoorbeeld politieke kontakte vir persoonlike gewin benut. Onnodig om te sê, het Suid-Afrika die afgelope tyd meer as genoeg van hierdie soort gedrag ervaar! ‘n Ondoeltreffende toedeling van kapitaal sal by implikasie tot nadeel van multi- faktorproduktiwiteit en dus potensiële groei wees.

Aan die ander uiterste van rykdomverdeling word die normale werking van die kredietfunksie ontwrig deur die gebrek aan sydelinge sekuriteit onder diegene wat nie ryk aan bates is nie, en het baie mense nie toegang tot krediet nie. Gevolglik word gelykheid van geleenthede op verskillende maniere ondermyn. Die ophoping van menslike kapitaal deur diegene aan die onderpunt van die inkomste- en rykdomverdeling word beperk, en entrepreneurs vind dit moeilik om befondsing vir hul ondernemings te verkry.

Suid-Afrika se ervaring getuig van die frustrasie wat hierdie beperkings veroorsaak – let op die “Fees must Fall”-veldtog by universiteite en die gereelde klagtes van swart entrepreneurs oor hoe moeilik dit is om finansiering van die formele finansiële sektor te bekom. Dit is egter nie net die geraakte individue wat in die proses swaar kry nie, maar die produktiewe kragte in die ekonomie sal ook gekortwiek word. Swak opvoedkundige prestasie en vaardigheidsontwikkeling sal ook die ekonomie se vermoë ondermyn om met tegnologiese vooruitgang tred te hou, tot nadeel van potensiële groei.

Buite en behalwe die uitwerking wat ongelykheid op ekonomiese groei het, kan dit ook groter skommelinge in die konjunktuursiklus tot gevolg hê. Armer mense is meer geneig om besteding uit hul arbeidsinkomste te befonds as ryker mense (of minder geneig om te spaar, afhangende van hoe ‘n mens dit sien). Ryker mense is weer meer geneig om van hul rykdom te bestee (en ook meer geneig om van hul inkomste te spaar).

Die gevolg is dat batepryse, veral aandelepryse, ‘n belangrike rol by verbruiksbesluite speel. Ryk mense is geneig om prosikliese spaargedrag te toon, naamlik om gedurende tye van dalende batepryse meer te spaar, wat ‘n verdere beperking op verbruiksbesteding is, en minder te spaar wanneer batepryse styg, wat tot hoër verbruiksbesteding bydra.

Van die wisselvalligheid van batepryse spoel dus oor na die reële ekonomie en veroorsaak dat die amplitude van die konjunktuursiklus verhoog. In ‘n uiterste situasie kan ongelykheid finansiële stabiliteit ondermyn deur leningswanbetaling onder laerinkomstegroepe te verhoog, wat kan veroorsaak dat die ekonomie in ‘n resessie gaan.

Wat veral ontstellend is van die bogenoemde dinamika is hoe Suid-Afrika die groot uitdagings waarvoor hy staan uit die oog verloor het. In plaas van om vordering te maak met die oplossing van hierdie kwessies, raak Suid-Afrika al hoe verder agter. Die wêreld sal nie vir Suid-Afrika wag om in te haal nie, veral nie op die gebied van tegnologiese ontwikkeling nie. Die dinge wat ons aandag van die werklike uitdagings waarmee ons gekonfronteer word, aflei, gaan ons duur te staan kom.

Verwysings

Boushey, Heather, De Long, J Bradford, en Steinbaum, Marshall (eds.): After Piketty: The Agenda for Economics and Inequality. Harvard University Press. 2017

Brynjolfsson, Erik and McAfee, Andrew: The Second Machine Age: Work, Progress, and Prosperity in a Time of Brilliant Technologies. W W Norton & Co. 2016.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam