Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die Britse stemmery ten gunste van Brexit word as die grootste terugslag tot nog toe vir globalisasie bestempel. Of dit korrek is, is ‘n onuitgemaakte saak – een van die argumente wat ten gunste van Brexit aangevoer word, is per slot van rekening dat dit die VK in staat sal stel om sy eie vryhandelsooreenkomste met lande soos China en Indië te beding sonder om aan bande gelê te word deur die beperkings wat deur lidmaatskap van die EU op hom afgedwing word! Die LEAVE-veldtog wil ook op ‘n tot dusver onverklaarde wyse toegang tot die enkele EU-mark behou. En dit laat die realiteit dat die Brexit debat tot ’n groot mate op wanvoorstelling van die feite en blote onkunde gegrond was buite rekening.

Oënskynlik gaan Brexit meer oor die regionale politieke integrasie as oor globalisasie, alhoewel dit wêreldwye implikasies inhou as gevolg van die lande wat betrokke is se belangrikheid vir die internasionale ekonomie en politieke ewewig.

Wat dit wel tuisgebring het, is die feit dat kwessies oor ekonomiese integrasie nie klinies beslis kan word aan die hand van ekonomiese teorie nie, omdat die mense wat deur die proses geraak word onvermydelik óf wenners óf verloorders is. Dit is onrealisties om te verwag dat die verloorders hulle lot sal aanvaar sonder om te kla en dat hulle nie die politieke stelsel sal gebruik om hul stemme te laat hoor nie.

Die argument dat ekonomiese integrasie in die geheel tot voordeel van die gemeenskap is, bied geen troos vir die verloorders nie. Indien die wenners buitelanders is, soos wat so dikwels die geval in vryhandelsooreenkomste is, sal die verloorders selfs minder ontvanklik vir sulke argumente wees. Selfs toonaangewende ekonome in die VSA voer dikwels aan dat globalisasie aanleiding gegee het tot verlore poste, veral as gevolg van stygende invoere van vervaardigde goedere uit China, sonder om die skep van nuwe poste in China (wat miljoene uit armoede opgehef het) teen die verlies van Amerikaanse vervaardigingsposte op te weeg.

Die voor- en nadele van globalisasie kan per slot van rekening net op ‘n internasionale vlak bepaal word soos in die werk van Branko Milanovic (voormalige hoof-navorsingsekonoom van die Wêreldbank en tans besoekende professor aan die Luxembourg Income Study Center by die CUNY) wat onlangs geskryf het dat diegene wat hulle hulle rondom die mediaan van die globale inkomsteverdeling bevind of in die top 1% ’n groot toename in reële inkomste ondervind het. Daarenteen het diegene rondom die 80-85ste persentiel van die globale verdeling geen styging in reële inkomste ervaar nie.*

Wat die debatte wat in die VK, Europa en die VSA woed ook tuisgebring het, is die feit dat die vrye beweging van mense kwalitatief verskil van die vrye beweging van goedere en dienste en kapitaal. Alhoewel die voor- en nadele van vrye kapitaalvloeie oor grense heen en vryhandel in goedere en dienste suiwer op grond van ekonomiese oorwegings evalueer kan word, behels die vrye beweging van mense nie net hul rol as ekonomiese agente (werkers, verbruikers en belastingbetalers) nie, maar kwessies van kultuur en identiteit is ook op ‘n emosionele vlak vir mense belangrik. Om die voor- en nadele van migrasie suiwer vanuit ’n arbeidsmark perspektief te beoordeel sal dus tot onvolledige gevolgtrekkings lei.

Suid-Afrika kan hom nie afsydig hou van hierdie debatte nie. In wese trek hy nie net voordeel uit globalisasie nie, maar het ook ‘n gevestigde belang in die deurlopende uitbreiding daarvan.

As ‘n produsent van grondstowwe is Suid-Afrika afhanklik van die internasionale vraag na grondstowwe en nie net van China nie – grondstofpryse word per slot van rekening deur wêreldwye vraag en aanbod bepaal. Enige gebeurtenis wat ‘n impak op internasionale ekonomiese toestande en vooruitsigte het, het dus betrekking op Suid-Afrika se belange.

As gevolg van swak plaaslike vraag en die Suid-Afrikaanse regering se onvermoë om ‘n omgewing te skep wat bevorderlik is vir hoër ekonomiese groei, is Suid-Afrika van buitelandse vraag (d.w.s. uitvoere) afhanklik om groei aan die aanbodkant te ondersteun. Indien Suid-Afrika suksesvol wil wees in sy strewe om met die voorsieningsketting op te beweeg en die betaling van hoër lone deur verhoogde produktiwiteit moontlik te maak, benodig hy toegang tot buitelandse markte en internasionale voorsieningskettings, veral vir sy uitvoere van vervaardigde produkte. Indien hy sy mededingende voordeel ten opsigte van finansiële dienste ten volle wil benut, sal ander lande, veral in Afrika, Suid-Afrikaanse finansiële instellings moet toelaat om binne hul grense sake te doen.

Weens Suid-Afrika se lae vlak van besteding aan navorsing en ontwikkeling en gebrek aan innovasie, is hy afhanklik van die oordrag van buitelandse tegnologie en kundigheid wat dikwels deur regstreekse buitelandse belegging plaasvind.

Suid-Afrika se voortdurende tekort op die lopende rekening en lae plaaslike spaarkoers maak die land afhanklik van ‘n voortgesette invloei van buitelandse kapitaal, en finansiële globalisasie het geleenthede hiervoor beduidend verbeter.

Wat die vrye vloei van mense betref, is Suid-Afrika se benadering onduidelik. Enersyds is dit teësinnig om Suid-Afrikaanse ondernemings toe te laat om hoogs geskoolde werkers in diens te neem soos nodig, en andersyds laat hy oogluikend ‘n wettige en onwettige instroming van meestal ongeskoolde mense uit die res van Afrika toe.

Soos blyk uit die sporadiese voorvalle van xenofobiese geweld is Suid-Afrikaners, net soos die Britte, nie altyd verdraagsaam teenoor die instroming van buitelanders nie. Alhoewel ‘n betekenisvolle persentasie van migrante na Suid-Afrika Moslems is (bv. diegene uit Somalië), is daar geen bewys van besware teen hul teenwoordigheid op grond van godsdiens of kultuur soos wat die geval in Europa, Brittanje en die VSA is nie. Die naaste wat ons hieraan gekom het, is die klagtes van informele handelaars in Kaapstad dat hul Somaliese mededingers glo met kapitaal uit die Midde-Ooste, wat deur die Moslemse Regsraad gekanaliseer word, gehelp word om ondernemings te begin.

Hierdie besware is egter hoofsaaklik van ‘n ekonomiese aard. In ‘n land waar daar ‘n gebrek aan ekonomiese geleenthede is, behoort dit nie ‘n verrassing te wees dat Suid-Afrikaners tereg van mening is dat hulle by ‘n nulsomspel met buitelandse migrante betrokke is nie.

Byvoorbeeld, volgens Derick Blaauw van Noordwes Universiteit en kollegas, betree buitelandse migrante dikwels die informele sektor as dagwerkers. Hulle ding met Suid-Afrikaners mee vir werk in hierdie straatarbeidsmark. Drie ondersoeke wat gedoen is onder dagarbeiders wat tussen 2004 en 2015 in Tshwane werksaam was, het twee belangrike tendense aan die lig gebring. Eerstens het die komponent buitelandse migrante binne 11 jaar van 12% tot net meer as 55% toegeneem. Tweedens het die lone en die vlak van armoede van buitelandse én Suid-Afrikaanse dagwerkers in dieselfde tydperk verswak.**

Dit alles beteken dat diegene wat voordeel getrek het uit die groot veranderinge in die afgelope 50 jaar nie hulle rug kan draai op die lot van die diegene wat daardeur benadeel is nie. Die uitslag van die Brexit stemmery toon dat die harde kante van ongelykheid glad gemaak sal moet word. In Suid-Afrika is dit net soveel belangriker.

Verwysing
*Branko Milanovic: The greatest reshuffle of individual incomes since the Industrial Revolution. VoxEU. 1 Julie 2016

**Derick Blaauw, Anmar Pretorius, en Rinie Schenck: Day labourers and the role of foreign migrants: for better or for worse? Econ 3x3. 17 Mei 2016.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam