Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Minister Pravin Gordhan se mediumtermyn-begrotingsrede was dus soos ʼn vars briesie, propvol groot idees soos maatskaplike geregtigheid, ʼn billike samelewing, inklusiewe ekonomiese groei, en (alhoewel die term nie as sodanig in die rede gebruik is nie) inklusiewe groeigenererende transformasie. Indien die begrotingsrede oor Suid-Afrikaanse politiek in ʼn breër sin gegaan het, sou idees soos die verskil tussen ʼn konstitusionele demokrasie en regering deur die meerderheid, en die belangrikheid van die handhawing van die fundamentele skeiding tussen party en staat waarskynlik ook ingesluit gewees het.

Dit sou maklik wees om die idees wat geopper is, veral maatskaplike geregtigheid, as abstrak en van ‘n filosofiese aard van min praktiese belang af te maak.1 Maar dit sou ʼn ontwyking wees van die verantwoordelikheid om aandag te gee aan kritieke vrae waarvoor die Suid-Afrikaanse gemeenskap staan, op ʼn tydstip waarop dit te make het met die werklikheid dat die oorgang ná 1994 nog nie afgehandel is nie.

Miskien moet ons net begin met die konsep van maatskaplike geregtigheid, rofweg omskryf as hoe die goeie en slegte dinge in die lewe onder die lede van ʼn menslike samelewing verdeel moet word.2 My standpunt is dat ons almal ʼn begrip het, al is dit ook net in ons onderbewussyn omdat ons nie uitdruklik aandag daaraan gee nie, van wat maatskaplike geregtigheid van ons vereis. En hoe ons kwessies soos transformasie en inklusiwiteit hanteer, hang onvermydelik af van ons begrip van maatskaplike geregtigheid. Ons vooroordele, byvoorbeeld, kom nie uit die lug uit nie maar word deur een of ander soort redenasie gevorm.

1“Some believe that the pursuit of social justice is a snare and a delusion and that we should be guided by other ideals - personal freedom, for instance. Among those who support it, it is not at all clear what the idea means. Often it seems little more than a rhetorical phrase used to add luster to some policy or proposal that the speaker wants us to support. People may be committed to social justice in the abstract, and yet disagree bitterly about what should be done about some concrete social problem.” Miller (1999), p. ix
2Miller (1999), p.1

Dit is dus nodig dat minstens party van ons aandag gee aan hoe maatskaplike geregtigheid vandag in Suid-Afrika verstaan moet word. Dit is skynbaar presies wat Minister Gordhan gedoen het, en ek het weereens die indruk gekry dat hy wat dit betref, in groot mate gelei word deur die denke van die ekonoom Amartya Sen, wenner van die Nobelprys, soos uiteengesit in laasgenoemde se boek, The Idea of Justice.3 Sen is op sy beurt beïnvloed deur die politieke filosoof John Rawls (aan wie hy sy boek opgedra het), wie se meesterwerk, A Theory of Justice4, tot vandag toe ʼn grondteks is.

Rawls se denkwyse kan opgesom word in sy konsep van “geregtigheid as billikheid”, wat onder meer uitdrukking vind in die sogenaamde “vermoënsbenadering” in ontwikkelingsekonomie, waarvoor Sen welbekend is.

Rawls omskryf billikheid as ʼn aandrang op onpartydigheid, d.w.s. die nodigheid om partydigheid in ons evaluasies te vermy, ook ag te slaan op die belange en bekommernisse van ander, en veral die behoefte om nie deur ons onderskeie gevestigde belange of deur ons persoonlike prioriteite, eksentrisiteite of vooroordele beïnvloed te word nie.5 Vir Rawls moet geregtigheid deur regverdige instellings bewerkstellig word.

Van besondere relevansie vir ʼn uiters ongelyke gemeenskap soos Suid-Afrika is Rawls se tweede beginsel van regverdigheid, naamlik dat maatskaplike en ekonomiese ongelykhede... geheg moet word aan ampte en posisies wat onder toestande van billike gelykheid of geleentheid oop is vir almal; en tweedens dat dit tot die grootste voordeel van die mins bevoorregte lede van die gemeenskap moet wees.6

Hiervandaan is dit ʼn klein treetjie na Sen se standpunt dat daar by die ontleding van maatskaplike geregtigheid baie voor te sê is vir die beoordeling van individuele voordeel volgens die vermoëns waaroor ʼn persoon beskik, dit wil sê die substantiewe vryheid wat hulle het om die soort lewe te ly wat hulle op prys die stel. Volgens hierdie perspektief moet armoede gesien word as die ontneming van basiese vermoëns eerder as net lae inkomste, alhoewel ʼn gebrek aan inkomste ʼn hoofrede vir die ontneming van ʼn persoon se vermoëns kan wees. Hierdie benadering fokus op ontnemings wat intrinsiek belangrik is (in teenstelling met lae inkomste, wat slegs instrumenteel belangrik is).7

Dit bring ons terug na die mediumtermyn-begrotingsrede en die minister se wens vir ʼn regverdige en billike samelewing wat op menswaardigheid en gelykheid gegrond is.

3Amartya Sen: The Idea of Justice. Allan Lane. 2009.
4John Rawls: A Theory of Justice. Harvard University Press. 1971. 5Sen (2009), p.54 6John Rawls, Political Liberalism, 1993, p. 291; quoted in Sen (2009), p.59 7Sen (1999), p.87

Soos reeds genoem, fokus die begrotingsrede op inklusiewe groei en inklusiewe transformasie. By die aktiewe regstelling van die onregte van die verlede het ons ʼn keuse tussen die verkryging van bevoorregting en rykdom vir enkeles, of wyer deelname en wydgerigte bemagtiging.

ʼn Onlangse ondersoek deur die Brusselse dinktenk Bruegel na inklusiewe groei in Europa, voer aan dat groei as inklusief beskou kan word indien dit geleenthede vir alle segmente van die bevolking bied en dit billik deel. Om inklusiewe groei te verstaan, moet ons eerstens ongelykheid verstaan.8 Dit is vanselfsprekend dat hierdie waarneming ook op Suid-Afrika betrekking het.

Minister Gordhan se begrotingsrede het ook nie weggeskram van die moontlike botsing tussen groei en transformasie nie. Ek het in die verlede aangevoer dat Suid-Afrika ʼn beter balans tussen hierdie doelwitte moet handhaaf en dat groei nie deur transformasienoodsaak gekniehalter moet word nie. Dit is dus verblydend om daarop te let dat die minister gesê het dat ons ʼn keuse het tussen benaderings wat slegs rykdom oordra, en benaderings wat nuwe ondernemings, nuwe bates, nuwe werkgeleenthede en ʼn meer oop groeipad skep.

Inklusiewe groei en transformasie word eerder as aanvullend tot mekaar gesien. Die siening is dus dat inklusiewe groei die oopstelling van geleenthede en die verruiming van deelname aan ʼn uitbreidende ekonomie beteken, wat in die gemarginaliseerde gemeenskappe se behoefte aan dienslewering voorsien (d.w.s. vermoë-tekortkominge aanvul), goeie werkvooruitsigte vir almal skep, en onderwys van goeie gehalte op alle vlakke aan alle gemeenskappe voorsien.

Inklusiwiteit sal ook bevorder word deur die gehalte van onderwys, die tempo en patroon van verstedeliking en behuisingsontwikkeling, nywerheidsontwikkeling en die uitbreiding van werkgeleenthede, handel en nywerheid, en maatskaplike beskermingsdienste, insluitend toegang tot gesondheidsorg en maatskaplike veiligheid.

Dit sou maklik wees om tot die gevolgtrekking te kom dat inklusiewe groei net oor gelyke geleenthede gaan en dat, indien alle formele struikelblokke wat in die weg van toegang tot geleenthede vir almal staan, verwyder word, alles in orde sal wees. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Bruegel het bevind dat daar ʼn toenemende besef is dat ekonomiese groei op sigself nie billike geleenthede aan verskillende segmente van die samelewing voorsien nie. In die meeste lande vind agtergeblewe mense dit moeilik om vooruit te gaan.9 Met ander woorde, voordat daar gelyke geleenthede kan wees, moet die armes se vermoë-tekortkominge waarna Sen verwys, uit die weg geruim word.

Die belangrikste tekortkominge lê by onderwys weens die belangrikheid daarvan vir opwaartse mobiliteit en geskiktheid vir werk, insluitende self-indiensname. Met die aandag in Suid-Afrika tans op hoër onderwys, is dit gepas om onsself te herinner aan die kritieke belangrikheid van vroeëkindontwikkeling vir lewenskanse.

 

8Darvas and Wolff (2016), p. 1
9Darvas and Wolff (2016), p. 9

Die belangrikheid van instellings en ekonomiese strukture vir inklusiwiteit word algemeen erken. Volgens minister Gordhan hang dit af van wette en beleidsrigtings, sosiale netwerke en administratiewe stelsels, en hoe markte georganiseer word. Onderwys sal bydra tot gelykheid, stede sal maatskaplike en ekonomiese mobiliteit bevorder, markte sal groter geleenthede skep en openbare dienste sal in almal se behoeftes voorsien – mits dit gestruktureer word om inklusief te wees. Ons word aangesê om inklusiewe instellings en ʼn oop, ondernemingsgebaseerde ekonomie te bou, insluitend maatreëls om diskriminasie reg te stel en gelykheid te bevorder. Maar ons moet goed daaroor nadink: ons moet lank bestaande ongelykhede en vorms van heerskappy uit die weg ruim, sonder om nuwes te skep. Verder moet ons ook geleenthede uitbrei sonder om ons aan opportunisme oor te gee.

Minister Gordhan se beroep op Suid-Afrikaners om betrokke te raak by die idees wat hy geopper het, is ʼn uitnodiging tot groot denke. Gelukkig is die uitdaging aan ons nie om op een slag ʼn perfekte regverdige wêreld te skep nie, maar om net geleidelik vorentoe te beweeg na groter regverdigheid en billikheid deur ooglopende struikelblokke wat in die pad van ware gelyke geleenthede staan, uit die weg te ruim. Om ’n oop en eerlike gesprek waaraan alle Suid-Afrikaners hulle vry voel om deel te neem oor hierdie belangrike sake te kan hê, sal die debat tot bo die vlak van party-politiek verhef moet word.

Verwysings

Darvas, Zsolt en Wolff, Guntram B. An Anatomy of Inclusive Growth in Europe. Bruegel. Oktober 2016.
Gordhan, Pravin. Mediumtermyn-begrotingsrede. 26 Oktober 2016.
Miller, David: Principles of Social Justice. Harvard University Press. 1999.
Rawls, John. A Theory of Justice. Harvard University Press. 1971.
Sen, Amartya. Development as Freedom. Oxford University Press. 1999.
Sen, Amartya. The Idea of Justice. Allan Lane. 2009.

Contact Glacier

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam