Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die weklike valutawêreld lyk natuurlik heelwat anders, met geldeenhede wat voortdurend beïnvloed word deur ‘n reeks kragte van oor die wêreld heen, waarvan party van ‘n korttermyn-, verbygaande aard is, terwyl ander meer fundamenteel van aard is en hul invloed oor ‘n lang tydperk uitoefen.

Die rand word gewoonlik saam met byvoorbeeld die Australiese dollar, die Chileense peso, die Brasiliaanse reaal, ens. as ‘n kommoditeitsgeldeenheid beskou. Maar is dit werklik so dat die wisselkoers van die rand hoofsaaklik fluktuasies in kommoditeitspryse volg?

‘n Onlangse studie deur navorsers van die Bank vir Internasionale Verrekeninge (BIV) oor die bewegings van die wisselkoerse van 11 kommoditeitsuitvoerende lande, insluitend Suid-Afrika, bied nuttige en interessante perspektiewe oor die belangrikste aandrywers van die randwisselkoers.

Die studie het ‘n landspesifieke kommoditeitsprysindeks vir elke land ontwikkel volgens sy kommoditeitsuitvoerprofiel. Die Suid-Afrikaanse mandjie bestaan uit 10 kommoditeite, met platinum, steenkool en ystererts as die top drie volgens gewig in die indeks (goud is vyfde op die lys).

Van die 11 lande is die Brasiliaanse landspesifieke kommoditeitsprysindeks die minste wisselvallig, gevolg deur Suid-Afrika. Suid-Afrika se indeks toon ook ‘n hoë korrelasie (80%) met dié van Australië en Peru. Daarenteen is die Suid-Afrikaanse rand die mees onbestendige kommoditeitsgeldeenheid naas die Russiese roebel.

Dit is opvallend dat alle lande (behalwe Rusland) wat hoër kommoditeitsuitvoere as Suid-Afrika het nogtans minder wisselkoersskommelinge ervaar ondanks die feit dat Suid-Afrika se landspesifieke grondstofprysindeks relatief minder onbestendig is.

Alhoewel kommoditeitsuitvoere ongeveer 60% van Suid-Afrika se totale uitvoere uitmaak, is dit heelwat minder as byvoorbeeld dié van Australië (79%), Chili (85%) en Rusland (80%), maar vergelykbaar met dié van Brasilië (63%).

Die studie het bevind dat wisselkoersbewegings vir 10 van die 11 kommoditeitsuitvoerende lande wat by die studie ingesluit is, voorspel kan word op grond van waargenome daaglikse veranderinge in kommoditeitspryse vir tydhorisonne van tot twee maande, met ‘n maandhorison wat die beste resultate lewer. Die uitsondering is Suid-Afrika. Dit onderstreep die onvoorspelbaarheid van die bewegings van die rand.

Alhoewel elke land se wisselkoers ‘n hoë korrelasie met sy eie kommoditeitsprysindeks toon, is die olieprys geneig om selfs vir nie-olie-uitvoerlande ‘n algemene invloed op grondtofgeldeenhede te hê weens die hoë korrelasie tussen bewegings van die olieprys en dié van ander kommoditeite.

Omdat kommoditeitsuitvoerpryse geneig is om veranderinge in invoerpryse te troef, is die ruilvoet vir hierdie lande baie gevoelig vir prysbewegings in kommoditeitsmarkte. Dit verskaf dus onmiddellik beskikbare inligting oor die beweegrigting van die nominale ewewigswisselkoers.

‘n Interessante gevolgtrekking is dat bewegings in kommoditeitspryse nuttig is vir die verklaring van wisselkoersbewegings wat nie verband hou nie met veranderinge in risiko-aptyt, gemeet deur die volatiliteitsindeks (VIX) van die Chicago Board Options Exchange. Met ander woorde, afgesien van die handel wat deur wisselings in die aanvaarbaarheid van risiko gedryf word, het kommoditeitspryse hul eie onafhanklike uitwerking op wisselkoerse.

Dit oorheers ook die verskille in die opbrengskoerse op korttermynstaatseffekte (die sogenaamde drahandel) as ‘n aandrywer van wisselkoerse, met die gedeeltelike uitsondering van Australië en Kanada. Dié resultaat wys weereens op hoe nutteloos dit vir die SARB is om die swakheid van die rand te probeer stuit deur rentekoerse te verhoog (soos deur die SARB erken).

Wat kan ‘n mens hieruit aflei? Wat dra dit by tot ons kennis van die oorsake van skommelinge in die randwisselkoers?

Die gevolgtrekking blyk duidelik te wees: die rand is inderdaad ‘n kommoditeitsgeldeenheid, maar dit tree minder soos een op as sy portuurgroep. Die rand word ongetwyfeld in groter mate beïnvloed deur ander kragte, insluitend finansiële vloeie van ‘n fundamentele sowel as ’n spekulatiewe aard, wat dit die mees onvoorspelbare kommoditeitsgeldeenheid maak.

Dit maak die lewe baie moeilik vir almal wat ‘n gevestigde belang in die eksterne waarde van die rand het – van die SARB tot besigheid in die verhandelbare sektore van die ekonomie. Die les is: moenie die wisselkoers probeer voorspel nie, verskans eerder die risiko!

Verwysing
Kohlscheen, E., Avalos, F.H. en Schrimpf, A.: When the Walk is not Random: Commodity Prices and Exchange Rates. BIS Working Papers no. 551. March 2016.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam