Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die kern van die saak is dat die geloofwaardigheid van die Nasionale Tesourie, die Minister van Finansies, en die Nasionale Begroting ondermyn word. Indien die begrote styging van 6,6% per jaar in die owerheidsektor se salarisrekening (wat deur die kabinet gesamentlik goedgekeur is) so maklik opsy gestoot kan word, waarom moet ons die pad van fiskale konsolidasie soos in die MTBR uiteengesit, ernstig opneem? Indien die Minister van Finansies nie effektiewe weerstand kon bied teen die owerheidsektor se loonooreenkoms nie, hoe gaan hy dele van die regering oorreed om hul personeelgetalle te verminder, soos wat hy volgens die media voorgestel het?

Om die geloofwaardigheid van die begroting te ondermyn, is altyd onverstandig, maar om dit te doen op ‘n tydstip wat die toekomstige finansiering van die begroting en die koste daarvan in gevaar is, kan waansinnig wees.

Die Nasionale Tesourie kan nie in ‘n kombinasie van boekhouers en fondsinsamelaars verander word nie. Vanselfsprekend kan hy nie op sy eie die bestedingsprioriteite bepaal nie (alhoewel gehoor gegee behoort te word aan sy waarskuwing oor die nodigheid dat die samestelling van uitgawes ekonomiese groei moet ondersteun), maar hy behoort die laaste sê te hê oor die totale hoeveelheid hulpbronne wat tot die regering se beskikking is. Staatsuitgawes moet bepaal word binne die beperkings uitgespel deur die Nasionale Tesourie en nie asof die inkomstekant van die begroting deur onbeperkte buigsaamheid gekenmerk word nie.

In werklikheid het Minister Nene almal wat wil luister in kennis gestel dat beleidsinisiatiewe wat reeds aangekondig is nie bekostigbaar is sonder om die belastinglas te verhoog nie en dat laasgenoemde selfverydelend kan wees as gevolg van die negatiewe gevolge daarvan vir ekonomiese groei. Daar is immers min twyfel dat ’n verdere verplasing van hulpbronne van die private na die openbare sektor tot verlaagde doeltreffendheid sal lei.

Wat gaan meegee, staatsuitgawes of die belastinglas? Te oordeel aan die onlangse geskiedenis sal dit die belastinglas wees. Dit is te betwyfel of die Davis Belastingkomitee die stroom kan keer – soos in die verlede sal die regering waarskynlik uit die Komitee se aanbevelings dié kies wat sy agenda pas en die res ignoreer.

Die bestedingsplafon is reeds “tegnies” aangepas om uitgawes wat deur geoormerkte belasting gefinansier word, uit te sluit – wat ruimte vir verdere druk in hierdie area skep. Die moontlikheid om die tekort in die finansiering van hoër onderwys aan te vul deur die instelling van ‘n toegewese belasting (bv. ‘n gegradueerdebelasting) is reeds geopper.

Dit is ten spyte van die Nasionale Tesourie se teenkanting van geoormerkte belasting weens die silo’s wat dit in staatsfinansies skep. Hierby kan gevoeg word dat uitgawes wat op hierdie manier gefinansier word, gereelde heroorweging en mededinging met ander bestedingsprioriteite om die beskikbare hulpbronne vryspring. Byvoorbeeld, as die SETA’s deur algeneme belasting in plaas van ‘n spesiale heffing gefinisier is, sou hul rol waarskynlik reeds drasties verklein of in die geheel geskrap gewees het.

Suid-Afrika moet ook die werkloosheidsversekeringsfonds wat groot oorskotte hou, heroorweeg. Die hoofgebruik van werkloosheidsversekering is om sikliese werkloosheid te hanteer, dit wil sê werkers wat hul werk verloor het tydelik te help totdat hulle nuwe werk kry, terwyl Suid-Afrika hoofsaaklik ‘n strukturele werkloosheidsprobleem het.

Om te dink dat die instelling van rykdombelasting, soos te verwagte was voorgestel is deur prof. Thomas Piketty tydens sy onlangse besoek aan Suid-Afrika, ons ‘n pynlose oplossing sou bied (behalwe vir die paar rykes wat die ergste deur enige nuwe belasting geraak sal word), is ‘n illusie. Dit is nie die eerste keer dat ‘n besoekende vername internasionale persoon hom uitlaat oor wat Suid-Afrika behoort te doen sonder dat hy hom eers van die feite vergewis nie. En soos prof. Piketty self in sy boek Capital in the Twenty-First Century skryf, sal rykdombelasting slegs doeltreffend wees indien dit wêreldwyd aanvaar word – en hy erken dat die kanse hiervan feitlik nul is.

Dié van ons wat prof. Piketty se “aanbeveling” gretig aangeneem het, moet miskien daarop let dat hy nie rykdombelasting voorgestel het as ‘n instrument om inkomste te verkry nie, maar as ‘n manier om statistiek oor die verdeling van rykdom in Suid-Afrika in te samel wat akademici soos hy in hul studies kan gebruik. Volgens hom moet so ‘n belasting ingestel word teen ‘n lae koers (gelyk aan die koste om dit te administreer en nakoming te verseker, wat inkomsteneutraal sou wees?), wat beskou kan word as gelykstaande aan die verhoging van die begroting vir Statistiek Suid-Afrika.

Aangesien ‘n ophef gemaak word van graderingsagentskappe se moontlike reaksie op die MTBR sal hierdie kommentaar nie volledig wees sonder ‘n paar gedagtes oor hierdie onderwerp nie. Graderingsagentskappe neem hul eie besluite volgens hul bepaalde metodologie en ek gaan dus nie probeer om hul besluite vooruit te loop nie. Die kern van die saak is dat, of ons daarvan hou of nie of daarmee saamstem of nie, baie beleggers die kredietnavorsingsfunksie aan die graderingsagentskappe uitkontrakteer en laasgenoemde se uitsprake ‘n belangrike rol speel by die beskikbaarheid en koste van finansiering aan gegradeerde entiteite.

Dit is dus onverstandig om ‘n moontlike afgradering na nie-beleggingsgraad op die spel te plaas selfs al bestaan daar nie ‘n onmiddellike gevaar nie, veral op ‘n tydstip wanneer die koste van befondsing reeds aan die toeneem is en as gevolg van markkragte verder gaan styg.

In sy onlangse Global Financial Stability Report verwys die IMF weereens na die toenemende korrelasie in die pryse van internasionale bateklasse en wys daarop dat dit veral op die markte vir hoë-opbrengs effekte (sogenaamde “junk bonds”) en opkomendemarkskuld van toepassing is, omdat albei hierdie soorte bates as betreklik riskant beskou word. Dit sal dus die moeite werd wees om die mark vir hoë-opbrengs effekte (veral in die VSA) dop te hou vir moontlike tendense. Daar is reeds aanduidings dat risikopremies besig is om te normaliseer ondanks die feit dat die VSA Federale Reserweraad nog nie met sy verstrammingsiklus begin het nie en die soeke na hoë opbrengs.

Om af te sluit: indien Suid-Afrika voortdurend stygende staatskuld en skulddienskoste wil vermy, is daar geen alternatief vir die dissiplinering en herprioritisering van staatsuitgawes nie. Hoe moeilik dit ook al mag wees, sal die staat se loonrekening verlaag moet word - die SA regering het ’n gat vir homself gegrawe waaruit net hyself hom kan kry.​

Soos in die MTBR daarop gewys, groei die hulpbronne beskikbaar aan die fiskus – wat regstreeks afhanklik is van inkomste wat deur die ekonomie genereer word – te stadig om in die land se ontwikkelingsbehoeftes te voorsien. Vinniger groei is ‘n noodsaaklike voorwaarde vir die v​erkryging van die hulpbronne wat nodig is om maatskaplike en ekonomiese transformasie te ondersteun. Om die ekonomiese traagheid waarmee hy tans te make het te bowe te kom, moet Suid-Afrika maatskaplike konsensus oor ‘n pad van versnelde ekonomiese groei heropbou.

Contact Glacier

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam