Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die noodsaak vir makro-voorsorgtoesighouding

Een van die belangrikste bevindinge by die bepaling van die oorsake van die krisis was die nodigheid om te onderskei tussen risiko’s afkomstig van individuele finansiële instellings en markte, wat deur mikro-voorsorgregulering aangespreek moet word, en risiko’s voortspruitend uit die wanfunksionering van die finansiële stelsel op ‘n sistemiese vlak. Die hernieude belangstelling in makro-voorsorgtoesighouding en -regulering is hieruit gebore.

Die verhouding tussen makro-voorsorgtoesighouding en monetêre beleid was reg van die begin af ‘n omstrede kwessie. Dit is dus geen verrassing nie dat die SARB uitdruklik die interaksie en interafhanklikheid van makro-voorsorg- en monetêre beleid erken. Die SARB is sterk ten gunste van makro-voorsorgbeleid eerder as monetêre beleid om sistemiese risiko te verminder.

Volgens die SARB is monetêre beleid wat op prysstabiliteit gemik is, ‘n noodsaaklike voorwaarde vir finansiële stabiliteit, maar nie ‘n voldoende voorwaarde nie. Die doeltreffendheid van die aanwending van monetêre beleid om spesifieke finansiële kwesbaarhede aan te spreek, soos uitermatige hefboomfinansiering en finansiële instellings se praktyk om lang-termyn lenings met kort-termyn depositos te befonds, is nog nie duidelik bewys nie, en monetêre beleid is vanselfsprekend minder direk in sy werking as regulatiewe of toesighoudende intervensies.

Pogings om finansiële stabiliteit deur rentekoersaanpassings te bevorder, kan ook die wisselvalligheid van inflasie en indiensneming verhoog, omdat uiters hoë rentekoerse nodig kan wees. Bewys dat lae rentekoerse tot hoër hefboomfinansiering en groter afhanklikheid van korttermynbefondsing bydra, dui daarop dat hoër rentekoerse hierdie kwesbaarhede kan verminder, maar regulatiewe beperkings op hefboomfinansiering en korttermynbefondsing asook hoër onderskrywingstandaarde sal waarskynlik meer geteikende en doeltreffende metodes bied om hierdie kwesbaarhede aan te spreek.

Koördinering van monetêre en makro-voorsorgbeleid

Soos in die geval van baie sentrale banke is die SARB ten gunste van die omvattende koördinering van makro-voorsorg- en monetêre beleid, wat onder meer op ‘n praktiese vlak bewerkstellig word deur die oorvleueling van lidmaatskap van die Monetêre Beleidskomitee (MBK) en die Finansiële Stabiliteitskomitee (FSK) en die deel van inligting. Die mandate van die twee komitees word nie net deur hul onderskeie doelwitte geskei nie, maar in die besonder ook deur die instrumente (en dus transmissiemeganismes) wat hulle in die nastrewing van hul doelwitte kan aanwend.,/p>

Die hoofsaak by die nodigheid vir die koördinering van monetêre en makro-voorsorgbeleid is die realiteit dat die funksionering van elkeen van die doeltreffendheid van die ander afhang. Byvoorbeeld, die nodigheid vir onkonvensionele monetêre beleidsmaatreëls soos wat ons die afgelope paar jaar gesien het, sal gewis verminder word indien makro-voorsorgbeleid die voortgesette gladde werking van die finansiële stelsel kan verseker. Dit is ook onteenseglik so dat makro-voorsorgbeleid die ekonomiese siklus en dus monetêre beleid sal beïnvloed.

Daareenteen sal die invloed van monetêre beleid op die aanvaarding van risiko in die finansiële sektor ook ‘n impak hê op die uitdagings waarvoor makro-voorsorgbeleid staan. Volgehoue lae rentekoerse kan sterk kredietoplewings aanmoedig wat ‘n makro-voorsorgreaksie vereis, bv. deur laer lening-waarde-verhoudings en/of verhoogde kapitaalvereistes.

Die fundamentele vraag is steeds hoe om voorsiening te maak vir die uitwerking van monetêre beleid op finansiële stabiliteit deur die invloed wat dit op batepryse het. Die vraag of monetêre beleid die ontstaan van bateprysborrels doelbewus moet teenwerk, is ingehaal deur die skepping van sodanige borrels deur monetêre beleid in sommige ontwikkelde lande die afgelope paar jaar, veral in effektemarkte waar opbrengskoerse deur die beleid van kwantitatiewe verruiming tot abnormaal lae (selfs negatiewe) vlakke gedryf is. In ag genome die nadelige impak van lae effekte-opbrengskoerse op pensioenfondse en versekeraars druis die doelgerigte verlaging van effekte-opbrengskoerse in teen die owerhede se uitbreiding van hul definisie van die probleem van finansiële stabiliteit tot verder as die banksektor.

In teenstelling hiermee bestaan daar geen twyfel nie dat makro-voorsorgtoesighouding doelbewus teen die tendens in die finansiële stelsel sal moet werk indien hy sy doelwit wil bereik om finansiële krisisse af te weer deur die opbouing van finansiële wanbalanse te verhoed.

Die koördinering van die voering van monetêre beleid met dié van makro-voorsorgtoesighouding laat die vraag ontstaan of die twee beleidsvelde op ‘n soortgelyke institusionele grondslag gehanteer moet word. Of, anders gestel, aangesien monetêre beleid, veral inflasieteikenstelling, binne ‘n gevestigde institusionele raamwerk toegepas word, moet makro-voorsorgtoesighouding aan dieselfde institusionele kriteria onderwerp word?

Beleidsdoelwitte

Monetêre beleid het ‘n goed omskrewe doelwit, naamlik prysstabiliteit, wat deur die inflasieteikenband van 3 tot 6% uitgedruk word. Die buigsaamheid van die inflasieteikenstellingregime maak voorsiening vir diskresie in die nastrewing van die doelwit van prysstabiliteit, veral om groei- en werkverskaffingsoorwegings in ag te neem.

Dit is baie moeiliker om die doelwit van makro-voorsorgtoesighouding, naamlik finansiële stabiliteit, te omskryf om ‘n soortgelyke vlak van beleidsdeursigtigheid te behaal. (Dit is inderdaad twyfelagtig of konsensus oor die definisie van finansiële stabiliteit al bereik is.) Terwyl die inflasiekoers die primêre veranderlike is wat prysstabiliteit meet, maak finansiële stabiliteit net voorsiening vir sekondêre veranderlikes as aanwysers van sistemiese risiko, d.w.s. die doelwit van finansiële stabiliteit kan net indirek nagestreef word, wat deursigtigheid by beleidvorming ietwat kompromitteer. Dit sal baie moeilik, indien nie onmoontlik nie, wees om die doelwit van makro-voorsorgtoesighouding in terme van ‘n enkele veranderlike te omskryf waarmee die publiek vertroud is en waarvan die vordering oor tyd ‘n aanduiding van moontlike verwagte beleidsaksie aan belanghebbende partye sal gee.

Terwyl inflasie ‘n deurlopende verskynsel is wat die ekonomiese siklus volg, gaan finansiële stabiliteit oor gebeurtenisrisiko (tipies seldsame gebeurtenisse) wat sal vereis dat drumpelwaardes bepaal word vir belangrike finansiële veranderlikes wat geïdentifiseer is as vroeëwaarskuwingsaanwysers wat aanleiding tot ‘n voorafbepaalde respons sal gee indien dit oorskry word.

Anders as inflasie moet finansiële stabiliteit uitdruklik die uitwerking van oordraagbaarheid in ag neem. Soos in die geval van inflasie is die ontwikkeling van die risiko’s oor die algemeen siklies van aard (hoewel die finansiële siklus gewoonlik langer as die ekonomiese siklus is). Die keuse tussen ‘n reëlsgebaseerde benadering (bv. antisikliese kapitaalbehoeftes vir banke wat outomaties met ‘n toename in lenings aangepas word) en ‘n diskresionêre benadering is dus meer akuut.

Deursigtigheid

Die deursigtigheid van monetêre beleid word verhoog deur gereelde verklarings deur die MBK, die halfjaarlikse Monetêre Beleidsoorsig, en gereelde toesprake deur topamptenare van die SARB. Net so sal die deursigtigheid van makro-voorsorgtoesighouding voordeel trek uit die halfjaarlikse Oorsig oor Finansiële Stabiliteit en gereelde toesprake, alhoewel die nodigheid om onnodige angs in finansiële markte te voorkom meer omsigtige verklarings tot gevolg sal hê.

‘n Belangrike verskil tussen monetêre en makro-voorsorgbeleid om die algemene publiek te help om die stappe wat gedoen word te verstaan, is dat monetêre beleid meer dikwels aangepas word sal word met korter sloerings in die uitwerking daarvan as wat waarskynlik vir makro-voorsorgbeleid die geval sal wees.

Die laer deursigtigheid van makro-voorsorgbeleid dui daarop dat dit nie moontlik sal wees om verwagtinge aangaande toekomstige beleid as deel van die transmissiemeganisme te benut in die mate wat dit met monetêre beleid moontlik is nie.

Toerekenbaarheid

Onder inflasieteikenstelling is dit makliker om beleidvormers toerekenbaar te hou. Deur werklike inflasie met die teikenband te vergelyk, is dit maklik om te bepaal of die monetêre beleidsowerhede aan die doelwit van prysstabiliteit voldoen. Indien inflasie buite die teikenband beweeg, moet monetêre beleid aangepas word om dit geleidelik weer tot binne die band terug te bring.

Alhoewel dit net so duidelik sal wees of finansiële stabiliteit bereik word al dan nie, beteken die feit dat ons met die voorkoms of nie-voorkoms van ‘n gebeurtenis te make het dat makro-voorsorgbeleidvormers nie genoeg tyd sal hê om te reageer wanneer sake verkeerd loop nie. Die druk van toerekenbaarheid en die nodigheid om voorkomend te wees, sal dus moontlik veroorsaak dat makro-voorsorgbeleid meer konserwatief is, selfs indien die voorkoming van ‘n krisis nie altyd as regverdiging vir die stappe wat gedoen is beskou sal word nie. (Hoe sal die owerhede ooit kan bewys dat dit hul optrede was wat ‘n krisis verhoed het?) In die geval van makro-voorsorgbeleid sal reputasieskade selfs groter wees weens die ernstige gevolge van beleidvormers wat foute begaan.

Onafhanklikheid

Sentrale banke se onafhanklikheid van politieke inmenging en inflasieteikenstelling gaan hand aan hand. Alhoewel belangegroepe, bv. georganiseerde arbeid, van tyd tot tyd druk op die MBK uitoefen om ‘n bepaalde beleid te volg, help die breë werking van sy belangrikste beleidsinstrument (die repokoers) hom om sulke druk te weerstaan. Soos onlangse gebeure egter getoon het, plaas die uitwerking van monetêre beleid op inkomsteverdeling die onafhanklikheid van die sentrale bank onder druk.

Aangesien makro-voorsorgbeleidsinstrumente individuele instellings regstreeks raak, sal hulle in groter mate die teiken van beïnvloeding en pogings tot regulatiewe kaping deur finansiële instellings wees. Wat politieke onafhanklikheid betref, kan die FSK onder druk kom weens die sektorale impak van sy beleidsbesluite. Beleid oor finansiële stabiliteit kan byvoorbeeld bots met die aanwending van finansiële onderdrukkingsmaatreëls om bepaalde beleidsdoelwitte of belange voor te staan. Die impak van makro-voorsorgbeleid op inkomsteverdeling kan dus selfs groter wees as dié van monetêre beleid, wat politieke belangstelling sal verhoog.

Indien die sentrale bank egter vir monetêre én makro-voorsorgbeleid verantwoordelik is, sal dit moeilik wees om onderskeid te maak tussen verskillende benaderings tot die onafhanklikheid van die sentrale bank afhangend van watter beleidsveld ter sprake is. Die gevaar is dat indien ‘n mindere mate van onafhanklikheid vir makro-voorsorgtoesighouding aanvaar word, dit die politieke onafhanklikheid van die monetêre beleidsfunksie in die gedrang kan bring.

Ten slotte

Makro-voorsorgbeleid staan nog in sy kinderskoene en is nie ‘n gevestigde dissipline soos monetêre beleid nie – dit is waarskynlik waar monetêre beleid 30 tot 40 jaar gelede was. Die verhouding tussen die twee beleidsvelde sal dus mettertyd ontwikkel. Dit kan lank wees voordat nuwe makro-voorsorgbeleidsraamwerke wat tans in plek geplaas word deur ‘n werklike sistemiese finansiële krisis beproef word en tot dan sal die debat oor die doeltreffendheid daarvan taamlik teoreties van aard bly.

Aandag sal ook aan die koördinering van makro-voorsorgbeleid met mikro-voorsorgtoesighouding en fiskale beleid gegee moet word, omdat dit ook met hierdie twee beleidstakke verweef is. Byvoorbeeld, die identifikasie van sogenaamde sistemies belangrike finansiële instellings (SIFI’s) en die onderwerping daarvan aan strenger regulering sal noodwendig dui op ‘n oorvleueling van makro-voorsorg- en mikro-voorsorgbeleid, terwyl belastingbeleid gedrag wat betref die aanvaarding van risiko beïnvloed, bv. die keuse tussen die gebruik van lenings of ekwiteitsfinansiering. Die potensiële hoë fiskale koste van finansiële krisisse beteken ook dat die fiskale owerhede ‘n geldige belang het by beleidstappe wat op die voorkoming van sulke krisisse gemik is.

Verwysings

Agur, Itai en Sharma, Sunil: Rules, Discretion, and Macro-Prudential Policy. Duisenberg School of Finance. 26 Maart 2012.

Galati, Gabriele en Moessner, Richhild: Macroprudential policy ̶ a literature review. Working Paper no. 267. De Nederlandsche Bank. Desember 2010.

Kamber, Günes; Karagedikli, Özer en Smith, Christie: Applying an Inflation Targeting Lens to Macroprudential Policy ‘Institutions’. Discussion Paper DP2015/04. Reserve Bank of New Zealand. 2015.

Smets, Frank: Financial Stability and Monetary Policy: How closely Interlinked? European Central Bank. 2014.

South African Reserve Bank: A new macroprudential policy framework for South Africa. Financial Stability Department. November 2016.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam