Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die vraag is egter of dit die begin van ’n nuwe neiging is en of dit uiteindelik net nog ’n tentatief kortstondige verskynsel in ’n volgehoue sywaartse beweging gaan wees. Kan die aandelemark uit die slapte ontsnap waarin die ekonomie vasgevang is? Hoewel die verhouding tussen die vertoning van die aandelemark en dié van die ekonomie ten beste as onseker beskryf kan word, kan dit op die lange duur sekerlik nie geïgnoreer word nie.

Die droewige groeivertoning van die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope vyf jaar moet baie van die blaam vir die aandelemark se swak vertoning dra, terwyl die negatiewe politieke sentiment die afwaartse hergradering van Suid-Afrikaanse aandele aangemoedig het. Dit is veral opmerklik hoeveel Suid-Afrikaanse aandele hulle eweknieë in opkomende markte in die algemeen sedert ‘Nenegate’ in Desember 2015 onderpresteer het.

Die vooruitsig vir die toekoms is nie veel beter nie, aangesien die potensiële groeikoers van die Suid-Afrikaanse ekonomie ’n ernstige terugslag gely het. Maatskappye wat vir die meeste van hul wins op die Suid-Afrikaanse ekonomie staatmaak, gaan veral gekniehalter word om hul besighede te groei.

’n Mens moet natuurlik egter erken dat Suid-Afrikaanse maatskappye al hoe meer van hul winste in die buiteland verdien, wat die skakel tussen die vertoning van die binnelandse ekonomie en plaaslike aandeelpryse verswak. Belangriker nog, die voorspoed van die JSE bly aan dié van internasionale beurse verbind en dis onwaarskynlik dat Suid-Afrikaanse aandele aanhou kan verhoog as dit nie deur internasionale neigings, veral op Wall Street, ondersteun word nie. ’n Mens moet dus nie die dryfkragte agter die volgehoue styging in byvoorbeeld die S&P 500-indeks uit die oog verloor nie, op dieselfde tydstip toe die Suid-Afrikaanse mark onderpresteer het.

Winste het tydelik ’n hupstoot gekry deur byvoorbeeld kostebesnoeiing, en meer spesifiek is verdienste per aandeel (kunsmatig) verhoog deur die aantal uitgereikte aandele te verminder deurdat maatskappye hul eie aandele teruggekoop het. In sover laasgenoemde deur lenings (aangemoedig deur lae rentekoerse) gefinansier is, het dit perfekte sin vanuit ’n korporatiewe finansiële perspektief gemaak, maar uiteindelik is dit net nog ’n teken van ’n gebrek aan winsgewende beleggingsgeleenthede wat toplyngroei sal bevoordeel.

Die swak vertoning van die JSE het daarom teen ’n ondersteunende internasionale agtergrond gebeur wat nou dreig om tot ’n einde te kom. Ruim likiditeit wat deur die kwantitatiewe verruimingsprogramme van ontwikkelde lande se sentrale banke verskaf is en die gepaardgaande lae effekte-opbrengskoerse het ’n belangrike rol gespeel om beleggers hul oë vir risiko te laat sluit in hul soeke na opbrengs. Sentrale banke is egter nou ingestel op die normalisering van monetêre toestande.

Die CBOE Volatility Index, eufemisties bekend as die finansiële markte se ‘vrees-indeks’, het onlangs na enkelsyfers beweeg, ’n vlak wat laas in 2007 voor die internasionale finansiële krisis gesien is.

Aandelewaarderings op Wall Street, wat die wêreld se toonaangewer bly, het ongemaklik hoë vlakke bereik, soos duidelik getoon deur Robert Schiller se siklies aangepaste prysverdiensteverhouding wat onlangs deur die 30-vlak gebreek het. Die enigste twee vorige kere (1929 en 2000) toe hierdie verhouding dié vlak bereik het (dit het trouens die vorige keer 40 verbygesteek), is dit deur ’n ineenstorting van die aandelemark gevolg.

Beleggers het daarom baie om te oorweeg vanuit ’n suiwer finansiëlesiklus-perspektief. En die onteenseglike waarheid is dat die opwaartse been van die siklus taamlik uitgerek voorkom, met baie min ondersteuning vir ’n verdere toename in aandeelpryse. Selfs indien die Trump-administrasie daarin sou slaag om betekenisvolle belastinghervormings tot voordeel van die korporatiewe sektor deur te voer, is die meeste van die potensiële voordele wat dit inhou reeds verdiskonteer.

Maar dalk is daar meer wesenlike vrae wat aandelebeleggers hulself behoort te vra, wat die langtermyn-toekoms van die bateklas raak. Was die groot bulmark wat in die 80’s begin en skielik deur die finansiële krisis beëindig is ’n afwyking, of kan ons ’n herhaling hiervan verwag?

Aandelemark-bewegings, beide hul rigting en omvang, word deur verandering in die omgewing bepaal, eerder as die stand van die omgewing. Ons moet onsself dus vra wat die rigting en omvang van toekomstige verandering waarskynlik gaan wees, vergeleke met waar ons vandaan gekom het.

Verlies aan momentum in die aandelemark sal nie ’n totale omswaai van die kragte vereis wat dit sedert die 80’s aangedryf het nie, maar net dat hulle verswak. En dit is inderdaad wat besig is om te gebeur.

  • Eerstens het die neoliberale era met sy wydstrekkende deregulering, wat allerhande nuwe winsgeleenthede geskep en winsmarges in staat gestel het om toe te neem, tot ’n waggelende stilstand gekom. Die geesdrif vir strenger regulering ná die finansiële krisis het moontlik opgedroog en ’n mate van omkeer is dalk selfs in die vooruitsig, maar ondersteuning vir nuwe druk ten opsigte van deregulering is nêrens te vinde nie.
  • Tesame hiermee het die finansialisering van die ekonomie op ’n nasionale én wêreldwye vlak waarskynlik sy piek bereik. Die terugdruk om nie finansiële belange toe te laat om te oorheers nie, het nog ’n lang pad wat voorlê.
  • Die groei in vraag wat uit ’n stygende skuldlas, openbaar én privaat, voortgevloei het, het sy gang gegaan en kan nie herhaal word nie. Spaarsaamheid en die verlaging van skuldvlakke is eerder aan die orde van die dag en die afwenteling van die oorhangende skuld gaan ’n lang tyd verg.
  • Die volgehoue styging in die aandeel van kapitaal in nasionale inkomste deurdat laasgenoemde eerder as arbeid die meeste van die voordele van groter produktiwiteit kon opeis, is verby. Die relatiewe aandele van kapitaal en arbeid beweeg in lang siklusse en ons kan naby ’n draaipunt wees.
  • Die geesdrif vir toenemende globalisering het verflou en ten minste ’n gedeeltelike omkeer vind reeds plaas. Wêreldwye politieke oorsig is van stryk gebring deur die onttrekking van die VSA uit sy globale leierskapsrol, terwyl die veelgeroemde nuwe multipolêre wêreld nog nie aangebreek het nie, wat die riskantheid van internasionale kapitaalvloeie verhoog. Die korrelasies tussen batemarkte oor grense heen sal waarskynlik verminder, veral as die wêreldwye besigheidsiklus minder gesinchroniseerd raak oor nasionale grense heen.
  • Die verdraagsaamheid vir groter ongelykheid het sy limiet bereik en die reaksie van daardie groepe in die samelewing wat meen hulle is by die voordele van groei uitgesluit, het die politieke landskap verander. Indien die wêreld op lang termyn na ’n laer groeibaan beweeg, soos voorspel word (bv. deur die voorstanders van die sekulêre stagnasie-tesis), gaan dit waarskynlik tot groter distribusiekonflik lei. Buiten die bedreiging van politieke onstabiliteit, gaan die aandrang op groter gelykmaking (oftewel egalisme) die besigheidsomgewing beïnvloed, en moontlik winste onderdruk.
  • Die hertaksering van aandelewaardasies het ’n groot rol in die vorige bulmark gespeel. Dit is egter moontlik gemaak deur die strukturele daling in inflasie sedert die vroeë 80’s en die gevolglike daling in rentekoerse. Inflasie (en rentekoerse) het ’n multijaar-laagtepunt bereik vanwaar dit net kan styg, hoewel dit nog vir ’n tyd op sy huidige bedrukte vlak kan bly. ’n Herhaling van die dalings in die 80’s en 90’s is egter buite die kwessie.
  • Die vermoë van beleidmakers om makro-ekonomiese stabiliteit in die toekoms te waarborg, is beduidend verminder met die drastiese inkrimping van die moontlikhede vir teensikliese fiskale beleid. Die enigste betekenisvolle beleidskeppende mag is nou in sentrale banke gesetel, hoewel die doeltreffendheid van monetêre beleid ook ’n veelbesproke saak is. Hoe meer sentrale banke die gaping betree wat deur die afwesigheid van fiskale beleid geskep word, hoe meer sal hul onafhanklikheid en gebrek aan demokratiese aanspreeklikheid bevraagteken word, soos reeds gebeur. Die vermoë van sentrale banke om soos in die verlede finansiële stabiliteit te behou, is dus nie ’n gegewe nie.
  • Die aard van tegnologiese ontwikkeling verander kwalitatief en stuur daarop af om die werkwêreld net soos die eerste nywerheidsrevolusie te ontwrig – kyk byvoorbeeld na die toenemende rol van robotte om take te verrig wat tot dusver as mense se eksklusiewe domein beskou is. Dis onseker hoe die gevolge teen mekaar gaan opweeg wat laer koste, verlore werkgeleenthede, groter eise aan die welsynstaat en politieke stabiliteit betref.

Waar laat dit ons?

Die bulmark in aandele in die ontwikkelde lande nader sy einde en die kanse is nie goed dat dit binnekort gaan hervat nie. In die lig daarvan dat Suid-Afrika die afgelope drie jaar die positiewe sentiment jeens aandele as ’n bateklas misgeloop het onder meer vanweë sy binnelandse wanfunksionering, word die land nou deur die vooruitsig in die gesig gestaar van ’n oorgang na ’n verswakkende wêreld-agtergrond, met nog geen oplossing vir die plaaslike dooie punt op die horison nie.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam