Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Die belangrikheid van instellings vir groei

Die titel van die boek vat die erns van die gevaar waarvoor Suid-Afrika staan saam. Why Nations Fail. The Origins of Power, Prosperity and Poverty is inderdaad ‘n ernstige waarskuwing dat Suid-Afrika hom op ‘n gevaarlike koers bevind wat in algehele mislukking kan eindig indien die huidige rigting van institusionele verandering nie gekeer word nie.

A&R se openingstelling is dat lande se ekonomiese sukses verskil as gevolg van hul verskillende instellings, die reëls wat die werking van die ekonomie beïnvloed, en die aansporings wat mense motiveer. ‘n Fundamentele verskil is dié tussen inklusiewe en ekstraktiewe instellings weens hul invloed op vooruitgang en armoede deur die aansporings wat hulle skep.

Inklusiewe vs ekstraktiewe instellings

Inklusiewe instellings is die grondslag van vooruitgang deur die skep van ekonomiese geleenthede (byvoorbeeld die ruimte om nuwe besighede te skep en ’n loopbaan van keuse te volg), nie net vir die elite nie maar vir die breër gemeenskap. Hulle word gekenmerk deur gewaarborgde eiendomsregte (noodsaaklik vir beleggings- en produksiegroei), ‘n onpartydige regstelsel wat kontrakte handhaaf, en die doeltreffende verskaffing van openbare dienste en infrstruktuur om ‘n gelyke speelveld daar te stel.

Inklusiewe instellings baan die weg vir die dryfkragte van voorspoed, in die besonder tegnologiese vooruitgang en opvoeding, wat gesamentlik die grondslag van innovasie uitmaak. Dit spreek die vrees vir die implikasies van die proses van kreatiewe vernietiging wat verskillende belangegroepe laat poog om hul posisie te beskerm en te handhaaf, aan. Inklusiewe instellings vereis van die staat om sy dwingende magte van koördinering uit te oefen om orde toe te pas, openbare dienste te verskaf en ’n basiese regulatiewe raamwerk in plek te plaas.

Ekstraktiewe instellings, daarenteen, is daarop gemik om inkomste en welvaart uit een deel van die samelewing te verkry tot voordeel van ‘n ander deel van die samelewing, gewoonlik die elite. Trouens, ekstraktiewe politieke instellings is die middel waardeur die elite hulself verryk en hul politieke oorheersing konsolideer.

Instellings en politieke mag

Ekonomiese instellings word deur die gemeenskap geskep, en die politiek is die proses waardeur die reëls waarvolgens die gemeenskap funksioneer, neergelê word. Die verspreiding van politieke mag is dus kritiek – wanneer daar ‘n konflik oor instellings is, sal die wenner deur die verspreiding van mag in die gemeenskap bepaal word.

In die geval van absolutistiese politieke instellings kan diegene wat die mag het hul mag gebruik om instellings tot stand te bring om hulself ten koste van die gemeenskap te verryk. Wat volgens A&R veral kommerwekkend is, is dat politieke instellings die elite wat politieke mag beheer in staat stel om ekonomiese instellings met min beperkings of teenmagte te kies. Dit stel die elite ook in staat om toekomstige politieke instellings en die ontwikkeling daarvan te struktureer. Ekstraktiewe ekonomiese instellings verryk op hul beurt dieselfde elite, en hul ekonomiese welvaart en mag help om hul politieke oorheersing te konsolideer. Kortom, die mag van selfvoortsetting is in ekstraktiewe politieke en ekonomiese instellings veranker.

In teenstelling hiermee kan pluralistiese politieke instellings wat mag wyd in die gemeenskap versprei en dit aan beperkings onderwerp, maar wat terselfdertyd voldoende gesentraliseer is om doeltreffend te wees, as inklusief beskou word. Inklusiewe politieke instellings is op hul beurt ‘n voorvereiste vir stabiele, volhoubare, inklusiewe ekonomiese instellings.

Dit is duidelik dat ekstraktiewe ekonomiese en politieke instellings nie bevorderlik vir ekonomiese vooruitgang is nie. Ekstraktiewe politieke instellings met sterk gesentraliseerde mag kan ‘n tyd lank met hoë groeikoerse gepaardgaan, maar dit is op lang termyn nie volhoubaar nie, onder meer as gevolg van binnegevegte oor die buit. Inklusiewe ekonomiese instellings ondersteun nie ekstraktiewe politieke instellings nie en word nie daardeur ondersteun nie.

Die probleem is dat dit nie in belang van die magtige elite is om ten volle inklusiewe instellings te skep wat waarskynlik hul mag en hul vermoë om voordeel uit ekstraktiewe instellings te trek, sal verminder nie. Met ander woorde, weens die natuurlike verband tussen ekonomiese groei en inklusiewe instellings sal sodanige elite nie ontvanklik wees vir beleidsrigtings wat tot hoër ekonomiese groei sal lei nie. Die aansporings om die proses van kreatiewe vernietiging te aanvaar wat ‘n inherente deel van ekonomiese groei en ontwikkeling uitmaak, wat dikwels die gevolg van tegnologiese verandering is, is net nie daar nie. Ekstraktiewe instellings sal ook nie die aansporings bied vir mense om te spaar, te belê en te innoveer nie.

Instellings en kritieke keerpunte

Gemeenskappe is nie vir ewig vasgevang in ‘n bepaalde institusionele bestel met sy gepaardgaande implikasies vir ekonomiese voorspoed nie. Van tyd tot tyd bereik die gemeenskap ‘n kritieke keerpunt wat ‘n beduidende verandering in sy toekomstige trajek – hetsy negatief of positief – sal veroorsaak. Die kritieke vraag is of die keerpunt meer inklusiewe of meer ekstraktiewe instellings tot gevolg sal hê. Dit sal onder meer bepaal word deur die interaksie van kritieke keerpunte met die proses van institusionele verandering, wat afhang van hoe die gemeenskap ekonomiese en politieke konflik oplos.

A&R sê daar moet nie aangeneem word dat enige kritieke keerpunt tot ‘n suksesvolle politieke revolusie of ‘n verandering ten goede aanleiding sal gee nie. Daar is talle voorbeelde in die geskiedenis van revolusies en radikale bewegings wat een tirannie met ‘n ander vervang.

Ná ‘n ontleding van Suid-Afrika se geskiedenis voor 1994 het A&R tot die gevolgtrekking gekom dat ekstraktiewe politieke en ekonomiese instellings aan die orde van die dag was. Dit is dus nie ‘n verrassing dat voorspoed nie volhoubaar was nie en dat die ekonomie geleidelik gestagneer het nie.

Volgens A&R was die politieke oorgang na ‘n demokrasie in Suid-Afrika in 1994 ‘n kritieke keerpunt soos hierbo omskryf wat meer inklusiewe politieke instellings meegebring het. Dit het hand aan hand gegaan met die aanvaarding van meer inklusiewe ekonomiese instellings, wat ‘n radikale rigtingsverandering tot gevolg gehad het wat die ekonomie op ‘n hoër groeipad geplaas het.

Suid-Afrika vandag

Suid-Afrika staan weereens by so ‘n kritieke keerpunt, met sy institusionele struktuur wat in die teenoorgestelde rigting beweeg in vergelyking met die aanvanklike tydperk ná 1994, naamlik van inklusiewe na ekstraktiewe instellings. Ekstraktiewe instellings in eie reg is nie net nadelig vir die ekonomie nie, maar ondermyn ook die vorming en funksionering van die oorblywende inklusiewe instellings.

Kortom, politieke leiers wat voordeel uit ekstraktiewe instellings trek, het geen belang by die ontwikkeling van inklusiewe instellings wat die regte aansporings kan bied waarop mense kan reageer nie. Wat vertel A&R se teorie ons van die huidige situasie waarin Suid-Afrika hom bevind?

In die eerste plek is Suid-Afrika nie ‘n geïsoleerde geval in die geskiedenis nie – per slot van rekening is die teorie ontwikkel nadat talle voorbeelde uit verskillende dele van die wêreld op verskillende tye bestudeer is. Die geskiedenis toon dat die gevolge van ekstraktiewe instellings in ‘n sekere mate onvermydelik is.

In die tweede plek moet ‘n mens nie te optimisties wees oor die moontlikheid dat ekstraktiewe ekonomiese instellings met inklusiewe instellings vervang kan word nie. Laasgenoemde sou die vervanging van ekstraktiewe politieke instellings met inklusiewe politieke instellings vereis, en soos A&R aanvoer, moet die vermoë van die elite wat voordeel uit ekstraktiewe instellings trek ten einde die mag te behou nie onderskat word nie.

In die derde plek ondermyn ekstraktiewe instellings ekonomiese groei. Vir Suid-Afrika om aan die lae groeitrajek te ontsnap waarop hy hom bevind, sal ’n radikale klemverskuiwing in institusionele ontwikkeling vereis.

In die vierde plek, alhoewel Suid-Afrika steeds gekenmerk mag word deur ‘n kombinasie van ekstraktiewe en inklusiewe instellings, is so ‘n kombinasie volgens A&R se teorie onstabiel. Dit is nie volhoubaar nie en iets sal moet meegee.

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam