Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Al die betrokke partye kan daarvan beskuldig word dat hulle bygedra het tot die verdieping van die krisis en die feit dat dit al so lank voortsleep sonder om opgelos te word. Dit is te verstane dat Europese lande gefrustreerd is met die huidige Griekse regering en hul leier, mnr. Alexis Tsipras, wat blykbaar van mening is dat alle Europese regerings hulle aan die wil van Griekse kiesers moet onderwerp.

‘n Mens kan egter aanvoer dat mnr. Tsipras en sy linksgesinde party, Syriza, nooit aan die bewind sou gekom het as Europese leiers nie verkies het om telkemale moeilike besluite te vermy in die hoop dat dit sou verdwyn nie, soos om ‘n groot deel van Griekeland se skuld af te skryf in die besef dat die terugbetaling daarvan net nie prakties moontlik is nie. Van hulle kant moes die Grieke besef het dat om terug te keer daarna om binne jou vermoë te leef nie hardvogtigheid beteken nie maar bloot ’n realiteit is.

Die vertrekpunt vir die beskouing van hierdie drama is natuurlik die besef dat die instelling van die euro reg van die begin af ‘n politieke projek was. Alhoewel die moontlikheid van die instelling van ‘n gemeenskaplike Europese geldeenheid reeds vroeg in die sewentigerjare geopper is, was dit die val van die Berlynse Muur in 1989 en die daaropvolgende hereniging van Wes- en Oos-Duitsland wat aanleiding gegee het tot die besluit om uiteindelik met die europrojek voort te gaan.

Die vooruitsig dat ‘n magtige Europese opperleier uit ‘n groter en sterker Duitsland te voorskyn kon kom, het ander Europese lande, veral Frankryk, angstig gemaak. Net so graag soos hulle hul vrees wou besweer, net so graag wou Duitsland juis dit doen. Die gevolg was ‘n ooreenkoms om Europese lande selfs nouer saam te bind deur ‘n monetêre unie. Die probleem was natuurlik dat korte mette met die europrojek se ekonomiese logika (of liewer die gebrek daaraan) gemaak is.

Gevolglik is die nodige ekonomiese instellings, veral ‘n fiskale unie om die monetêre ooreenkoms te stut, nie in plek geplaas nie. Net so is die nodigheid om die strukturele verskille tussen Europese lande te verklein om hulle nader aan ‘n gemeenskaplike mededingingstandaard te bring, geïgnoreer. Nie eens die politieke verenigingsprojek is met die nodige entoesiasme gedryf nie, omdat afsonderlike Europese lande op hul nasionale soewereiniteit gesteld was.

Die gevolg was dat Griekeland toegelaat is om om politieke redes by die eurogebied aan te sluit en sy ekonomiese tekortkominge deur die vingers gesien is. Griekeland kon net aan die Maastricht-kriteria vir eurolidmaatskap voldoen deur met behulp van Goldman Sachs die syfers te dokter. En die verdere geskenk wat dit in die vorm van effekte-opbrengskoerse in die Duitse styl ontvang het van finansiële markte wat nie genoegsaam tussen die kredietwaardigheid van verskillende lede van die eurogebied onderskei het nie, het dit soveel makliker gemaak om ‘n hoë vlak van staatskuld vol te hou.

Die hedendaagse Griekse probleem is dus hoofsaaklik ‘n politieke een wat ‘n politieke oplossing vereis, terwyl ekonomiese argumente ondergeskik is. En daardie oplossing kan dalk wees om dit vir Griekeland maklik te maak om die eurogebied (maar nie die EU nie) te verlaat ten einde terug te keer na die situasie wat eintlik die hele tyd moes geheers het.

Griekeland se probleme bring natuurlik die tekortkominge van die euro duidelik na vore en stel die ledelande voor ’n strakke keuse - voltooi die Europese integrasieprojek of laat dit vaar. Die skade wat aan onderlinge vertroue tussen lede van die eurozone aangerig is sal ‘n toekomstige gedeurploeter toenemend onaangenaam maak.

Die Griekse skuldkrisis het ook weereens die aandag gevestig op die nodigheid van ‘n meganisme vir die ordelike oplossing van soewereine skuldkrissise, gedagtig daaraan dat sulke krisisse gewoonlik primêr van ’n politieke aard is. Daar behoort besef te word dat alhoewel lande selde bankrot speel in dié sin dat hul nasionale netto waarde negatief word, hulle deur onvolhoubare skuld oorval kan word (bygesê met die aktiewe hulp van oorgeruste kredietverleners). Die Argentynse skuldkrisis kon byvoorbeeld op ‘n baie meer ordelike wyse opgelos geword het as so ‘n meganisme in plek was, en ander lande (miskien is die Oekraïne volgende) sal dit ook in die toekoms nodig hê. Dalk kan die G20 die inisiatief neem om hierdie gedagte te bevorder.

Dit is klaarblyklik in die mode om in die Griekse dilemma lesse vir Suid-Afrika te soek (dis eienaardig hoe ontleders skynbaar selde dink dat ander lande van Suid-Afrika kan leer!). Afgesien van die voor die hand liggende les dat ‘n land nooit moet toelaat dat hy, deur bo sy inkomste te lewe, in die skuldpenarie beland waarin Griekeland hom bevind nie, is daar dalk ‘n belangrike politieke les uit dit alles te leer, naamlik om nooit politieke projekte aan te pak sonder om die ekonomiese lewensvatbaarheid daarvan noukeurig te ondersoek nie.

Suid-Afrika behoort dus liewer nugterdenkend te wees oor deelname aan Afrika-integrasie- en samewerkingsprojekte – hy moet absoluut seker maak van die ekonomiese koste en die voordeel wat hy uit die projekte sal trek. Die lesse wat hy uit die ongebalanseerde SACU-ooreenkoms geleer het behoort handig te pas te kom.

Dit is ook van toepassing op Suid-Afrika se lidmaatskap van die BRICS-groep. Die grondrede vir die BRICS-groepering is hoofsaaklik geopolities, naamlik om die Weste uit te koggel. Pogings om dit tot een of ander soort ekonomiese unie uit te brei moet omsigtig benader word. Gelukkig lyk dit egter of die Suid-Afrikaanse regering bewus is hiervan, alhoewel dit om verstaanbare redes gewoonlik nie uitbasuin word nie.​

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam