Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

​​​​​​Evaluering van 2018. Moeilike Tye. Waardevolle Lesse.

Deur Hennie de Villiers, 22 November 2018

Met die ekonomiese insinking wat ons vanjaar in Suid-Afrika ervaar het, die onbestendige markte en die moontlikheid van verdere verlagings van ons kredietgraderings, sluit ons 2018 af op 'n onseker noot. In hierdie artikel kyk Hennie de Villiers, Adjunk Uitvoerende Hoof van Sanlam Persoonlike Finansies, na die uitdagings wat in 2018 ervaar is, en die lesse wat ons geleer het en in 2019 kan gebruik.

Dit was 'n moeilike jaar vir ons kliënte en almal wat in Suid-Afrika woon. Die wisselvallige rand, stygende brandstofpryse, toenemende elektrisiteitskoste en ander faktore het 'n demper geplaas op mense se besteebare inkomste. Daar was ook beduidende onbestendigheid in die plaaslike en internasionale beleggingsmarkte, wat beleggersvertroue geknou en verdere druk op mense se finansiële posisie geplaas het.

Uit 'n sake-oogpunt was hierdie ekonomiese en marktoestande in 2018 ook vir Sanlam uitdagend en het dit ons siening bevestig dat dit nie altyd maklik is om in Suid-Afrika sake te doen nie. Soos ons kliënte se geld, is 'n beduidende deel van ons reserwes ook in hierdie mark belê.

Nog goed op dreef

Op 'n positiewe noot, is dit egter belangrik dat ons kliënte verstaan dat Sanlam 'n gediversifiseerde maatskappy is in baie segmente en produkreekse; en ons bedryf sake in en brei steeds uit na nog baie meer lande buite Suid-Afrika. Die feit dat ons so 'n goed gediversifiseerde profiel het, beteken dat ons besigheid veerkragtig gebly het oor die afgelope jaar, ondanks die strawwe klimaat.

Ons is ook finansieel goed voorberei om jare soos hierdie te trotseer. Danksy ons versigtige en gedissiplineerde benadering tot bestuurstoesig en fiskale bestuur oor die afgelope 100 jaar, het Sanlam genoeg kapitaalreserwes om die besigheid deur die slegte tye en in die goeie tye te stuur.

Vooruitskouend: blik op 2019

Oktober se Mediumtermyn-begrotingsraamwerk het Suid-Afrika as 'n "ekonomie by 'n kruispad1" beskryf. Wat 2019 betref, is dit binne hierdie konteks onmoontlik om te sê of volgende jaar noodwendig makliker gaan wees. Een belangrike les wat ons as 'n besigheid en u as ons kliënt kan leer uit ons ervarings gedurende hierdie onbestendige jaar, is dat dit belangrik is om by ons finansiële beplanning te hou en versigtig te wees met ons geld.

As u die beste waarde wil kry uit elke rand wat u verdien, bestee oordeelkundig en moenie ondeurdagte besluite neem wanneer u kies watter uitgawes voorkeur moet kry en op watter u wil besnoei nie. In tye soos hierdie is dit die moeite werd om by u finansiële plan te hou, of dit nou 'n spaarplan, aftreepolis of risikobestuurstrategie is.

Dit is nie net nodig om u besteding vandag sorgvuldig te bestuur nie – dink ook aan die beskerming van u bestedingsvermoë in die toekoms, of aan 'n tyd wanneer u nie meer 'n salaris kan verdien of u gesin kan onderhou nie. In moeilike finansiële tye is dit belangrik om te onthou dat u finansiële welstand oor die lang termyn 'n prioriteit is, en die moeite werd om in te belê. Moenie deur dramatiese bewegings in die mark of ekonomie ontsenu word en gevolglik ondeurdagte besluite neem nie. Hou u fokus op u langtermyndoelwitte – of u nou 'n gerieflike aftrede wil verseker, u gesin teen die impak van onbeplande gebeurlikhede wil beskerm, of met verloop van tyd ander lewensdoelwitte wil verwesenlik. Soos die gesegde lui – tyd in die mark is baie belangriker as om tydsberekening op die mark te probeer toepas.

Win advies in as u dit nodig het

Terwyl ons gereed maak vir die nuwe jaar, hoop ons u het 'n deeglike begrip van die kenmerke en voordele van die produkte waarin u belê is. As u onseker is of regtig sukkel om die prioriteite van u finansiële verpligtinge te bepaal, kan dit 'n goeie idee wees om 'n professionele finansiële adviseur te raadpleeg wat u kan help om u behoeftes te bepaal en 'n omvattende finansiële plan vir u lewe op te stel – 'n plan wat toegespits is op u kort-, medium- en langtermyndoelwitte, gegrond op u unieke omstandighede. Sanlam het 'n wye reeks produkte beskikbaar om te verseker dat u goed voorberei is vir enige gebeurlikhede met 'n groot finansiële impak.

Die belangrikste is egter om te onthou dat nou nie die tyd is om enige oorhaastige besluite te neem nie. Hou u visier op u doelwit om groter finansiële sekuriteit en vryheid vir u en u gesin te verseker, ongeag wat gebeur.

1 http://www.treasury.gov.za/documents/mtbps/2018/speech/speech.pdf
Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam