Skip Ribbon Commands
Skip to main content

Contact Glacier

  • +27 21 917 9002
    0860 452 364

Or email us

Media Centre
 

Dit geld vir alle kankers: die werklike finansiële koste van die siekte bly oor die algemeen onaangeteken. Gevolglik is baie pasiënte en hul familie nie voorbereid op die “verskuilde” koste wat met kanker gepaardgaan nie – soos ’n pruik of bandana, gemaklike klere wat pas, die brandstofkoste om by afsprake te kom, en ’n voedsame dieet om herstel te bevorder.

Die koste van kanker is nie net in Suid-Afrika hoog nie. In Amerika is ’n derde van die bevolking in skuld gedompel weens die koste wat aan kanker verbonde is, volgens die Kaiser-sentrum vir Gesondheidsnavorsing, met verwysing na ’n groep Amerikaanse kankerpasiënte van 18 tot 64 jaar.

Deon Theunis, hoof van Distribusie Ondersteuning by Sanlam Individuele Lewens, sê: "Hoewel dit wys is dat mense voorbereid is met ’n mediese fonds, dekking vir gevreesde siektes en ander polisse, is dit ook uiters belangrik dat hulle verstaan wat die omvang van die addisionele uitgawes is wat nie direk met behandeling verband hou nie. Die volle finansiële beeld van die koste van kanker word eintlik eers duidelik wanneer ’n mens hierdie uitgawes verstaan en weet wat deur ’n polis gedek word en wat nie."

Met die oog hierop, word ’n paar ramings van die potensiële “verskuilde koste” van kanker hieronder gegee:

Pruike

Haarverlies is een van die newe-effekte van chemoterapie. Volgens PriceCheck kos pruike wat van menshare gemaak is enigiets van R400 tot R4 000 (gemiddeld R1 000 – R2 000), maar sommige salonne gee afslag vir kankerpasiënte en KANSA versprei pruike wat geskenk word, gratis wanneer sulke pruike beskikbaar is. Die organisasie het ook ’n bank sintetiese pruike waaruit pasiënte kan leen.

Nuwe klere

Baie pasiënte ervaar gewigsverlies. ’n Goeie idee is om tydens die behandeling en herstel ’n paar standaardkledingstukke te kry wat pas en van sagte, lospassende materiaal gemaak is. Begroot omtrent R3 000 vir klere, met inbegrip van ’n verskeidenheid hoede, pantoffels, ’n kamerjas en nagklere.

Dieetvereistes

Daar is ’n magdom advies aanlyn beskikbaar oor die beste dieet vir verskillende tipes kanker. Dit is raadsaam om met ’n dieetkundige of ’n dokter hieroor te gesels. Daar sal dikwels dae wees wanneer ’n pasiënt nie honger voel nie. Hou dus gesonde happies en klaarbereide klein maaltye byderhand. Volgens ’n onlangse kosbarometer behoort ’n mens ongeveer R2 500 per maand vir gesonde kos te begroot.

Vervoer na en vanaf afsprake

Weeklikse afsprake by verskillende dokters en behandelingsentrums kan baie rondry of gereelde gebruik van openbare vervoer beteken. Brandstofpryse (tydens die skryf van hierdie artikel) wissel rondom R12,60 per liter. Meet dus die afstande op Google Maps en maal dit met die huidige brandstofprys en getal ritte om ’n geraamde totale koste per maand te kry. Sommige klein dorpies, byvoorbeeld in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, het nie kankerspesialiste nie. Pasiënte moet dus dikwels langer afstande reis of vir alternatiewe verblyf begroot om nader aan hul behandelingsentrums te wees.

Huishoudelike uitgawes

Ander onverwagte verhogings in koste hou verband met algemene huishoudelike uitgawes soos water, elektrisiteit, die internet en telefoon. Aangesien pasiënte dikwels langer by die huis is, styg al hierdie koste met tot R1 000 hoër per maand.

Aanvullende terapieë

Sommige pasiënte gaan vir alternatiewe holistiese terapiesessies soos akupunktuur, as deel van die herstelproses, terwyl ander ’n sielkundige raadpleeg vir geestelike en emosionele ondersteuning. Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep kan afsprake by ’n sielkundige tussen R600 en R 1200 per sessie kos.

Huisaanpassings

Indien die siekte ’n pasiënt se mobiliteit of krag inperk, kan dit nodig wees om dele van die huis aan te pas of op te knap om dit meer begaanbaar te maak, soos om seker te maak dat die persoon se slaapkamer en badkamer op die grondverdieping is. Die omvang van hierdie aanpassings sal wissel – dit kan eenvoudig wees, soos om die badkamervloer glyvas te maak en relings by die stort, bad en toilet aan te bring.

Tuissorg

’n Inwonende versorger kan enigiets van R3 500 tot R7 500 per maand of meer kos (volgens Payscale is die gemiddelde salaris R4 000 p.m.). St Luke's Hospice, ’n organisasie wat deur skenkings befonds word, lewer gratis verligtende sorg aan pasiënte en hul familie – insluitend tuissorg, saalsorg en berading.

Selfbefondsde mediese onkoste

Verlede jaar het die Suid-Afrikaanse Mediese Tydskrif ’n artikel gepubliseer waarin kommer oor die stygende koste van kankerbehandeling in Suid-Afrika uitgespreek is. Volgens die artikel het mediese koste ’n punt bereik waar mediese fondse se perke ontoereikend raak om selfs ouer generasie tipes behandeling te dek, om nie eens te praat van nuwe behandelings soos biologiese middels nie. ’n Gapingsdekking-produk kan help om die verskil te befonds tussen wat ’n pasiënt se mediese skema dek, en wat die totale behandelingskoste bedra. Aangesien dit egter tipies tot 500% van mediese skematariewe betaal en gapingsdekking-betalings nou tot R150 000 per begunstigde per jaar beperk word, kan dekking vir gevreesde siektes ook baie help om selfbefondsde mediese onkoste te dek.

Hoewel al hierdie onkoste oorweldigend kan lyk, kan bewustheid daarvan en beplanning daarvoor help om die finansiële las te verlig – veral as die pasiënt reeds dekking vir gevreesde siektes het.

Theunis se slotsom is dat Sanlam se suiwer kankervoordeel ’n eerste in Suid-Afrika is, en ontwerp is om ’n deel van die finansiële las van kanker te verlig deur dekking te verskaf waar dit die nodigste is. "Ons voordeel is bedoel om mediese fonds-tekorte en addisionele uitgawes te dek, en terselfdertyd verlaagde inkomste aan te vul indien die siekte ’n pasiënt sodanig aantas dat die pasiënt van loopbaan moet verander of moet ophou werk."

Glacier Financial Solutions (PTY)LTD is a licensed financial services provider.
Copyright © Sanlam